Baie, baie dankie aan elke lidmaat wat meegedoen het aan ons jaarlikse Barmhartigheidsmaand voedselinsameling. Elke skenking het gehelp dat ons al die houers vir die 9 verskillende organisasies kon vol maak en dit wat oorgeloop het, kon ons aan nóg ‘n organisasie skenk.

Baie dankie vir die altesaam 185 sopbottels. Dit alleen kan 1 110 etes verskaf! En baie dankie vir die 948 kositems wat gebring is. Dit is as volg in die Stellenbosch gemeenskap versprei:

  • 12 kospakkies (met elkeen ‘n sopbottel ook in) is gepak vir die sjefstudente wat ‘n jaarkursus by Stellemploy volg.
  • 4 kospakkies en 8 sopbottels is geskenk vir behoeftige gesinne by Laerskool Eikestad.
  • 6 inwoners by Molenhof het elkeen ‘n kospakkie ontvang en ook 4 sopbottels.
  • By die behoeftige studente aan die Universiteit van Stellenbosch konsentreer ons op klein verpakkings en kos wat maklik en vinnig voorberei kan word, bv klein verpakkings tee, kitsnoedels en blikkies met vleis. Hulle het ook 10 sopbottels ontvang.
  • Vir Jeuguitreik, waar 20 kinders woon, en by Safehouse, met ‘n totaal van ongeveer 20 vroue en hul kinders, gee ons in grootmaat vir die bereiding van voedsel, maar ook konfyt, grondboontjiebotter en ander smere vir elke dag se toebroodjies. Ons vergeet ook nie dat kinders darem af en toe aan ‘n koekie wil smul nie!
  • Nagskuiling, met sy 40 inwoners, word gehelp met grootmaat items soos pasta, rys, sopmengsels en blikkieskos vir die grootmaat voedselbereiding. Koffie, tee en smere vir brood is ook items wat hulle altyd nodig het.
  • Die ACVV ondersteun talle behoeftige gesinne en bejaardes. Daarom konsentreer ons op items wat aan individue en gesinne uitgedeel kan word. Hulle het ook 41 sopbottels ontvang.
  • Voedingsaksie, wat ongeveer 5 000 gebalanseerde maaltye per week by 60 voedingspunte aan behoeftige mense voorsien, kry die grootste persentasie van die ingesamelde voedsel. Kleiner verpakkings word ook geskenk, wat deur Voedingsaksie aan individue uitgedeel word. Ons kon 80 sopbottels aan Voedingsaksie skenk.
  • Stellenbosch Hospice het 30 sopbottels ontvang wat hulle op hul huisbesoeke kan uitdeel.
  • Deur die loop van Barmhartigheidsmaand is inbetalings ten bedrae van R5 750 gemaak. Daar is ook R5 000 bewillig uit die B-Aksie se fondse. Aankope ter waarde van R5 177,60 is gedoen. R3 572,40 sal oorbetaal word aan Stellenbosch Voedingsaksie, die organisasie wat die meeste behoeftige mense in Stellenbosch voed, en R2 000 aan Stellenbosch Nagskuiling.