Geskiedenis

Dit was eers op 14 Mei 1965 dat die nuwe gemeente Stellenbosch-Welgelegen gestig is met ’n lidmaattal van 604 en 336 dooplidmate. Op 2 Junie 1965 het Die Kerkbode berig dat die konsulent van die nuwe gemeente in die ring van Stellenbosch AJ (Attie) van Wijk is. Tydens ’n kerkraadsvergadering op 15 Junie 1965 is DJ (Dirk) Hattingh van die gemeente Heidelberg, Transvaal, beroep as eerste leraar van die gemeente. Die telegram wat aan hom gestuur is, het gelui:

“U is gisteraand beroep na nuwe gemeente Stellenbosch-Welgelegen. Hartelik geluk. Brief volg. Groete. Ds. AJ van Wijk – Konsulent.”

Die beroep is aanvaar en die Hattingh-gesin is die naweek van 27 tot 29 Augustus 1965 in die gemeente ontvang. Hulle het voorlopig in Crusestraat 7, Krigeville tuisgegaan.

Die ou Kweekskoolsaal langs Noordwal is gedurende die eerste sewe jaar na afstigting vir eredienste gebruik. ’n Klein pakkamer het as konsistorie gedien. Kategeseklasse is in die verskillende lesingsale van die Kweekskool gehou. Die skriba het tydelik ’n klein kantoortjie by die Moederkerk gebruik.

Die ruim en moderne pastorie in Buitekring 11 is heel eerste opgerig. Dit is op Vrydag 13 September 1968 in gebruik geneem. Die oprigting van die gemeentesentrum was ’n langsame proses. In November 1966 is die grond vir die kerkgebou teen ’n totale bedrag van R19 000 aangekoop. Die grond was op die rand van Dalsig, wat deur Roulou Barry ontwikkel is. Dit het erwe 44 tot 50, asook 38 en die restant van erwe 43 en 51 ingesluit. Toe die ideaal van ’n eie kerksentrum werklikheid word, het die boukommissie vir twee jaar elke week vergader om te beplan sodat die beginsels van kerkbou en die toekomstige behoeftes van die gemeente bepaal kon word. Paul le Roux is as argitek aangestel.

Die fokus was op eenvoud, Christelike simboliek en ’n teruggryp na kerkboustyle van die vierde eeu. Die ou tradisionele argitektuur en moderne vereistes moes versoen word om prakties, doeltreffend en funksioneel te wees. Die gedagte was ook om die onderhoud van die sentrum te beperk. Gebreekte bakstene met ’n ligte skakering is per trein vanaf Grahamstad gebring. Die dakkonstruksie rus op betonpilare wat ’n spesiale growwe, grys tekstuur vertoon. Die vier pilare aan weerskante van die preekstoel reik ononderbroke na bo.

Die meganiese Barok-orrel is deur die firma van Paul Ott in Göttingen, Duitsland, ontwerp en gebou. Paul Ott was een van die pioniers van die hervormingsbeweging (Orgel Bewegung) gedurende die twintigste eeu. In daardie stadium was dit die grootste meganiese kerkorrel in die Suidelike Halfrond

Die toewyding van die grond vir die kerksentrum was op Sondag 7 Februarie 1971. Ná die oggenddiens is sowat 400 gemeentelede na die bouperseel, waar Rudi Andrag ’n gebed gedoen het onder die groot bloekomboom. Daarna het Dirk Hattingh ’n boodskap uit 1 Konings 5:1 – 6:1 gelewer. Die volgende dag het ’n formele sooispitfunksie plaasgevind. Dit is deur sowat 150 mense bygewoon. Die oudste lidmaat, JP Potgieter, het die eerste sooi gespit met ’n graaf wat deur Dawie Joubert van die plaas Soverby geskenk is.

Die nuwe kerksentrum, teen ’n totale koste van R407 000, is meer as ’n jaar later op Sondag 8 Oktober 1972 ingewy. Die opgewondenheid en dankbaarheid van die gemeentelede was merkbaar toe hulle buite in die vierkant gewag het vir die amptelike oopsluit van die kerkdeur.