In Maart het Wilhelm Verwoerd oor twee Sondagaande met ons kom gesels oor sy boek Bloedbande wat in 2018 vrygestel is. Wilhelm (55) het in Stellenbosch grootgeword, skoolgegaan (PRG), studeer (Wilgenhof), en sy dogter is later jare in ons gemeente deur ds Carel Boshoff gedoop. Tydens verdere studies oorsee word hy vir die eerste maal blootgestel aan die denke van mede-Suid-Afrikaners (swart en wit) wat onder apartheid gely het of anders daaroor dink.
Die deurlopende tema van die twee gesprekke was versoening en om vredemakers te wees. ‘n Paar punte het uitgestaan uit die twee gesprekke wat ons van toepassing op ons eie lewens kan maak:
- Wilhelm wou leer hoe om mense bymekaar te bring wat diep van mekaar verskil, met hul pyn van die verlede.
- Jy kan nie ‘n pad saam met mense stap as jy nie self die pad gestap het nie, as jy dit nie self beleef het nie.
- Luister ons genoeg na ons eie familie en ouers?
- Wilhelm is baie versigtig vir morele arrogansie. As hy ‘n vinger wys na sy oupa, wys daar 3 vingers terug na homself, want hy was ook deel van die (apartheid)sisteem.
- Sy buitelandse blootstelling het hom geleer om te besef hoe diep die konflik in Suid-Afrika is en om met insig en deernis daarna te kyk. Wilhelm reken ons gaan vir die res van ons lewens sukkel om die siklusse te breek, dink maar aan die Ierse konflik van 600 jaar, die Viëtnamese oorlog en die Israel-Palestynse konflik.
- Die NG kerk het ‘n baie belangrike versoeningsrol om te speel – as vredemakers. Versoening neem ons na diep en onbekende waters. As gevolg van ons vrese vir die onbekende, benodig ons mense om saam met ons in ongemaklike ruimtes in te beweeg.
- In hierdie versoeningsproses moet ons tyd bymekaar deurbring en dit vereis voorbereiding, ver reis saam met mekaar, saamstap, medelye, die regte gesindheid en bereidwilligheid om na mekaar se lewensverhale en standpunte te luister.
Bloedbande help ‘n mens om na te dink oor jou eie land en jou eie familie. Die boek daag jou uit om bewus te word van ander mense en kulture en om met insig en wysheid na ander te luister.