Augustus is tradisioneel Barmhartigheidsmaand in die groter NG kerk-familie en beslis ook in ons gemeente. Die tema vir vanjaar se groot voedselinsameling is “31 dae van gee”.

Wat en hoe gaan ons dit doen? Ons samel nie-bederfbare voedsel en blikkieskos in vir die vlg organisasies: Voedingsaksie, ACVV, Nagskuiling, Safehouse, Jeuguitreik, Stellemploy, behoeftige studente aan die US, behoeftige inwoners in Molenhof ouetehuis en die Eikiehartprojek by Laerskool Eikestad. Vir elke organisasie sal daar ‘n groot houer by die B-Aksie-tafel staan. Jy kan dus kies vir watter organisasie jy graag wil skenk en die kos in daardie houer sit. Jy is welkom om dit Sondae voor die erediens in die houers te kom sit, of gedurende kantoorure in die week (Ma-Vr 08:00 tot 13:00)

Wat kan jy bring?  Enige nie-bederfbare voedsel, bv droë pasta, sopmengsels, smere vir brood, koffie, tee, blikkieskos, ens. Sien die onderstaande inkopielys vir idees. Kyk ook ‘n bietjie in jou koskas by die huis en bring van die voedsel of blikkies waarvan jy te veel het.  Kyk net mooi na die vervaldatums, want ons kan geen kos wat al verby die vervaldatum is, uitdeel nie.

Jy is genooi!  Word deel van hierdie verskilmakende gemeenteprojek om die groot voedselnood in die Stellenbosch gemeenskap te help verlig.