Volgens die HAT tree ‘n aksiekomitee handelend op, pak ‘n saak aan en voer dit deur. Hier by ons kan ons selfs verder gaan en sê dat die Barmhartigheidsaksiekomitee (B-Aksie) van Stellenbosch-Welgelegen deurgaans in aksie móét bly, want in hierdie dorp van ons is daar soveel geleenthede en dringende behoeftes waar barmhartigheid nodig is.

Ná die onlangse B-Aksie vergadering is daar met mening tot aksie oorgegaan, nadat ons opnuut bewus geword het van behoeftes en nood in ons dorp:

* Klere, skoene, beddegoed en baba benodigdhede is na die ACVV gestuur, asook ‘n speelhok en legkaarte vir die crèche – ‘n nie-lidmaat het ‘n groot hoeveelheid baba benodigdhede aan ons geskenk!
* 1 648 studente het gedurende 2024 by die maatskaplike werkers van die Universiteit van Stellenbosch aangeklop vir voedsel of ander hulp. Nie-bederfbare voedsel, toiletware, skryfbehoeftes en potloodsakkies is aan hierdie groep studente geskenk.
* Aan die einde van 2024 het ‘n nie-lidmaat ‘n rolstoel aan ons geskenk. Met die hulp van ‘n lidmaat is die beskadigde wiele vervang en die rolstoel, saam met 5 pakke grootmensdoeke en 6 gehekelde kombersies, is aan die inwoners van Huis Ebenhaeser geskenk.
* Nie-bederfbare voedsel, toiletware en skoonmaakmiddels is aangekoop en geskenk vir behoeftige bejaardes in Molenhof Tehuis vir Bejaardes.
* Aan Huis Horison is materiaal en wol geskenk, wat tans ‘n dringende behoefte is.
* ‘n Gemeentelid het ‘n elektriese en ‘n akoestiese kitaar geskenk, herlaaibare batterye is vir die kitare aangekoop en dit is met groot dankbaarheid ontvang deur Jamestown Sounds. Dan was daar ook ‘n gemeentelid wat ‘n klavier geskenk het aan Jamestown Sounds. Dit sal by Idas Vallei Primêr gebruik word.

* ‘n Gemeentlid het ‘n versoek in ‘n onlangse E-Nuus raakgelees dat die Cape Choral Academy ‘n tenoorblokfluit benodig. Met die oorhandiging daarvan kon ‘n mens sien hoeveel dit vir iemand beteken om iets vir iemand anders te gee wat dit werklik nodig het, en waardeer.
* Vir die mammas en babas by Paarl Hospitaal Neonataal is toiletware ter waarde van R4 000 aangekoop – danksy die ruim bydrae van ‘n familie in ons gemeente.
* Safehouse se bestuur was baie dankbaar vir die eetstoeltjie, speelmat, matrassies en sagte speelgoed, want daar is tans 2 babas in die Safehouse. Om die mammas se dag in te kleur, is hulle bederf met grimering!
* Danksy die getroue donasies van gemeentelede, kan ons deurlopend groente en leë houers aan Voedingsaksie skenk.

Om te gee, is lekker, maar om te gee waar jy weet ‘n behoefte is, is báie lekker!