Die “aksie”-deeltjie in die woord barmhartigheidsaksie het hierdie week weer ‘n werklikheid geword met baie aksies wat plaasgevind het.  Wanneer ‘n mens bewus word van nood in jou omgewing, kan jy nie stilsit nie en voel jy dat jy tot aksie moet oorgaan.

Wilna Naudé, nuwe verteenwoordiger op die B-Aksie,  het bewus geword van ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch wat dringend beddegoed benodig. Ons kon met lakens, kussings, komberse en ‘n duvet verseker dat daardie student lekker warm kan slaap gedurende die komende winter.

Marié van der Walt het met ‘n motor vol wintersklere, dameskoene, warm sokkies vir die winter, pragtige kussings vir hul sitkamer en die mooiste truitjies en mussies vir die kinders die harte by Safehouse verbly.  Dit is baie noodsaaklik dat die  vroue en kinders in Safehouse menswaardig behandel moet word en een manier om dit reg te kry is om hulle spesiaal en gelief te laat voel.  Op die foto spog Marié met ‘n pragtige truitjie vir die vierjarige dogtertjie in Safehouse.

By die Stellenbosch Voedingsaksie word meer as 12 000 gebalanseerde maaltye per week by 60 voedingspunte bedien.  Liesel Koen is altyd baie dankbaar wanneer sy die aartappels, uie en gevriesde sop by ons gemeente kom haal. Baie dankie aan almal wat gee. Enigiemand wat ook graag tot aksie wil oorgaan deur te help met aflewerings, kontak gerus die kerkkantoor.