Met die dae heelwat korter en die nagte wat nou merkbaar kouer word, is die behoefte aan warm klere en beddegoed baie groter. Gedurende April is daar baie warm klere en komberse ingesamel wat uitgedeel kon word. Warm klere, skoene en komberse is afgelaai by Jeuguitreik en by die Nagskuiling, waar daar tans, as gevolg van die kouer nagte, nie plek vir ‘n muis is nie. Vir die kindersaal by Stellenbosch Hospitaal het ons kinderklere, gebreide truitjies en musse en sagte speelgoed afgelaai. Sr Brandt by die Hospice se Skoenlappersaal was baie bly oor die lakens, kussingslope, handdoeke en nagklere. Volgens Cecelia en Ashley van die ACVV kon die warm klere en komberse nie op ‘n beter tyd gekom het nie. Die behoeftige inwoners van Molenhof Ouetehuis was baie dankbaar vir die nie-bederfbare voedsel, net betyds voor die Paasnaweek. Die bestuurder by Huis Ebenhaeser in Cloetesville was uiters dankbaar vir die grootmensdoeke, want daar is op hierdie stadium baie verswakte bejaardes wat intensiewe sorg benodig. Gemeentelede is steeds welkom om warm klere, komberse en nie-bederfbare voedsel gedurende Meimaand na die kerk te bring, want die nood bly baie groot.