Dis beter en lekkerder om te gee as om te ontvang

In Lukas 14 verduidelik Jesus vir sy gasheer dat hy nie ‘n feesmaal moet hou vir sy eie vriende, familielede en ryk mense nie, maar eerder vir die armes, kreupeles, verlamdes en blindes – die weerloses en kwesbares in die samelewing.  Die rede hiervoor is omdat hierdie mense nie die gasheer kan terugnooi nie.  In Handelinge 20:35 sê Paulus dat dit ‘n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang.  Na afloop van Barmhartigheidsmaand kon ons gemeente mildelik uitdeel en weggee aan die weerloses en kwesbares in die Stellenbosch omgewing, sonder om iets terug te verwag en omdat dit ons gelukkig maak om (met liefde) te gee.
  1. Die Voedingsaksie se Caddy het gekreun onder al die voedselitems.  Hierdie kos gaan versprei en gebruik word by die 60 voedingspunte waar meer as 5 000 mense per week gevoed word.
  2. Die 10 inwoners in Molenhof, wat afhanklik is van ‘n SASSA-toelaag, waardeer die hulp en liefde wat hulle deur die kospakkies ontvang.
  3. Betta Augustyn van Stellemploy was baie dankbaar toe 12 sjefstudente elkeen ‘n kospakkie kon ontvang.  Hierdie kos sal hulle deur hul eerste werksmaand dra.
  4. Leon se motor was tjok-en-blok vol toe hy die kositems by Jeuguitreik (met 20 kinders wat om verskeie redes deur die hof van hul ouers weggeneem is), Nagskuiling met sy 40 inwoners wat elke aand daar eet en slaap en by Safehouse (waar ongeveer 20 mishandelde vroue en kinders woon) gaan aflaai het.
  5. Die ACVV werk met die mees kwesbare mense in ons gemeenskap.  Maatskaplike werker José Kritzinger was baie dankbaar vir die nie-bederfbare voedsel wat hulle ontvang het.
  6. By Laerskool Eikestad is daar 2 gesinne en 6 leerders wat deur hul Eikiehartprojek ondersteun word.  Ons kon 4 bokse met nie-bederfbare voedsel aan die projek skenk.
  7. Voedselitems vir behoeftige studente aan die US sluit in kitspap, kitnoedels, asook blikkieskos en eiers – maklike etes vir besige studente wat moet hard leer.
Baie dankie aan elkeen wat bygedra het deur voedselitems vir onbekende ontvangers te bring en niks terug te verwag nie.  Om met liefde te gee, maak ons mos gelukkig!