Elke jaar doen Laerskool Eikestad ‘n gemeenskapsprojek wanneer die leerders klere, skoene, beddegoed en toiletware skool toe bring om te help om die nood in die Stellenbosch gemeenskap te help verlig. Die barmharigheidsaksie van ons gemeente is verantwoordelik vir die verspreiding van al hierdie items. Eers word alles ontvang, min of meer verdeel in hope vir kinders, tieners, dames, mans, skoene, babaklere, beddegoed, sagte speelgoed en toiletware. Dan begin die groot verdeling.
Elke sak word oopgemaak, daar word gekyk na die inhoud en die sakke word dan toegedeel aan al ons verskillende barmhartigheidsganisasies: ACVV, Nagskuiling, Jeuguitreik, Safehouse, Paarl Hospitaal en Stellenbosch Hospitaal. Dan volg die netjiese verpakking, die oplaai en die aflewering. Die ACVV, waar hulpbehoewende gesinne en individue ondersteun word, is altyd baie dankbaar vir hierdie groot donasie en hulle bakkie kreun behoorlik onder al die sakke.
Baie dankie aan Leon Cronje wat gehelp het om die aflewering by Nagskuiling en Jeuguitreik te gaan doen. Denise Paulse, bestuurder en maatskaplike werker by die Nagskuiling, was veral baie bly oor die skoene wat ons vir hulle uitgesoek het. Jeuguitreik het behoorlik gejuig oor al die kinder- en tienerklere wat hulle onder hul 20 inwonende kinders en 60 nasorgkinders kan verdeel. Vir Safehouse het ons vroueklere en kleuterklere geskenk en vir die 2 hospitale het ons kleuterklere en sagte speelgoed gegee.
Hierdie samewerking met Laerskool Eikestad is vir ons gemeente baie spesiaal – die skool vertrou ons gemeente met die verspreiding en terselfdertyd leer die leerders van die skool van omgee en deernis vir mense wat minder het as ons!