Wanneer ons dink oor die gemeente se finansies, is die uitgawekant seker altyd die moeilikste om oor te skryf, veral in Suid-Afrika met baie finansiële uitdagings en mense wat al hoe minder besteebare inkomste het. Hoekom sal ek dus nog my swaarverdiende geld vir die kerk gee? Ons betaal so baie belasting aan die keiser, dat ons nie meer iets oor het om vir die kerk – of dan nou, die Here – te gee nie. Om dié rede is die kerkraad dankbaar vir elke lidmaat wat deur sy/haar bydrae die uitbreiding van God se koninkryk en die volhoubare bestaan van die gemeente moontlik maak.

Om goeie rentmeesters van die Here se geld en besittings te wees, is ‘n groot verantwoordelikheid wat die kerkraad terdeë besef. Ja, ons gebruik lidmate se dankoffers en gawes, maar op die einde van die dag is dit die Here se besittings wat ons bestuur. Daarom is dit so belangrik om dit met omsigtigheid te doen en alles te gebruik waarvoor die Here dit nodig het. Die leraars en ander personeel staan in diens van die gemeente om te help om God se wil te onderskei en daaraan gehoorsaam te wees. Die leraars speel ‘n groot rol in ons lidmate se geestelike begeleiding en die opbou van die gemeente, maar uiteindelik moet alles dien tot opbou van die koninkryk van God.

Die werk van die kantoorpersoneel en diegene wat die kerkgebou en terrein versorg en skoonmaak, dien ook tot opbou van die gemeente. Die gemeente het 2 voltydse leraars en 6 ander personeellede. Ons vergoed ons personeel volgens skale wat deur die sinode aanbeveel word,  met die gemeente se unieke omstandighede in gedagte. Ons is ook dankbaar bewus van die ekstra myl wat elkeen van ons personeel vir die gemeente loop. Hulle onbaatsugtige diens en ywer vir die Here se werk is vir ons almal ‘n aansporing. Bo en behalwe die salarisrekening van die gemeente, moet ons sorg dra vir die instandhouding van ons geboue en die munisipale rekeninge betaal.

Ons begroot ook vir die bediening binne die gemeente: kategese materiaal vir die kinders, geleenthede vir ons seniors, die uitreik na Lesotho en selfs die kerse wat ons graag tydens eredienste aansteek.  Dan is daar natuurlik ons werk buite die gemeente en spesifiek fondse wat ons gee vir verskeie barmhartigheidsorganisasies, sendelinge en ook hulp aan die VGK Koelenhof. Bydraes aan die Wes- en Suidkaap Sinode moet ook betaal word, wat onder andere sinodale getuieniswerk in Afrika en barmhartigheidswerk in Suid-Afrika ondersteun.

Die werk van die kerk is omvattend maar heerlik, want ons leef in gehoorsaamheid aan God. As ons alles bymekaartel, is die begrote uitgawes om al die werk en verantwoordelikhede van die gemeente na te kom in hierdie boekjaar byna R4.1 miljoen. Ons glo dat elke bydrae vrug dra in die koninkryk van God. Dankie weereens dat u u dankoffer vir die Here aan die gemeente toevertrou. Bid saam met ons en help ons om goeie rentmeesters (bestuurders) van God se gawes te wees.