Die kerkrade van ons gemeente en die VGK Rynse gemeente het besluit om ‘n verhoudingsbou-pad saam te stap. Oor baie jare al is daar samewerking in die ring tussen die NGK en die VGK en is gemeentes ingedeel in tweeling-gemeentes wat saam probeer om aan ons eenheid in Christus gestalte te gee. Om nuwe dryfkrag aan ons pad saam met die Rynse gemeente te gee, het die kerkrade ‘n daadwerklike besluit geneem.
Dit is gemik op verhoudingsbou en daarom nooi ons lidmate wat wil deelneem om die kerkkantoor te skakel en jul name op te gee. As jy kans sien vir 2 byeenkomste per kwartaal waar 10 lidmate van elke gemeente saamkuier, mekaar beter leer ken, en saamgesels oor die Here se Woord en die Here se wil vir ons, is dit die bediening vir jou.