Dit was ‘n wonderlike geleentheid om verlede Sondag weer herinner te word aan die vervolgde kerk en die lyding wat hulle verduur ter wille van hul geloof. Thys Visser het verhale gedeel oor ons broers en susters in Kuba, Libanon, Viëtnam en van soveel ander plekke reg deur die wêreld waar dit onwettig is om ons lewende Here te aanbid.

Geopende Deure se strategie is om Christene in hierdie lande te ondersteun en te bemoedig en te bemagtig. Die Christene weet dan dat hulle ondersteuning het en leef hulle geloof vreesloos uit, want daar is mense wat vir hulle bid.

Een wonderlike getuienis was hoe kospakkies wat deur kerke in Libanon gekanaliseer word by die Siriese vlugtelinge uitkom en daardie gemeentes die kans het om die evangelie met Moslems te deel. Nog ‘n manier om dit te doen, is deur Bybels vir hulle te gee. En daarom rig Thys ook hierdie uitdaging aan ons. Hy skryf: “Ek wil julle graag uitnooi om deel te wees van ‘n baie spesiale geleentheid waar ons vervolgde Christene wil verras met ‘n spesiale Kersgeskenk … ‘n persoonlike Bybel.”

‘n Paar atlete wat geregistreer is by Geopende Deure (waarvan ons eie Leon Cronje ook deel is) gaan binnekort so ‘n bietjie perspireer vir ‘n doel wanneer hulle die “Dryland Traverse Trail Run” gaan aanpak. Die wedloop geskiet oor 4 dae oor ‘n afstand van 80 km in die Swartberge (die eerste kilometer is deur die bekende Kangogrotte naby Oudtshoorn).

Julle word dus uitgenooi om hulle met Bybels te borg sodat dit as inspirasie kan dien vir hulle terwyl hulle hardloop (run4THEM). Gaan kyk gerus by https://www.opendoors.org.za/afr/raak-betrokke/sweet/ na meer hieroor en hoe jy ‘n Bybelgeskenk vir iemand kan gee. As jy spesifiek vir Thys wil borg, kontak vir Leon Cronje wat al die besonderhede daaroor het.