As gevolg van verskeie faktore staan die gemeente voor baie belangrike keuses. Ons weet dat Covid nog vir lank met ons gaan wees, maar sien uit na ‘n bietjie “normaliteit”. Maar hoe gaan die nuwe normaal lyk en hoe gaan gemeentewees dalk permanent verander het? Wat moet ons dalk anders begin doen? Wat beteken lidmaatskap van die gemeente en hoe leef ons dit uit?

Dit is alles vrae wat die toekoms van die gemeente gaan bepaal. Verder neem ons ook oor ongeveer 6 maande afskeid van een van ons leraars. Monty Sahd tree DV aan die einde van Maart 2022 af. Die Kerkraad het met die oog hierop ‘n proses begin om na te dink oor gemeentewees. In die lig van die proses moet ons ook besin oor die beroeping van ’n leraar in Monty se plek, al dan nie. Van die begin af is dit vir ons ’n geloofsonderskeidende proses, want hierdie gemeente is die Here se gemeente.

Ons wil dus bewustelik luister na wat God deur die Gees vir ons sê. Geloofsonderskeiding sluit egter die hele gemeente in. Daarom wil ons vra dat elke lidmaat ons asb sal help. Ons het verskillende bedieningsareas geïdentifiseer en wil graag meer weet van jou belewenis daarvan in Stellenbosch-Welgelegen gemeente. Die bedieningsbehoefte vraelys is so opgestel sodat jy net die dele hoef in te vul wat op jou van toepassing is. Daar sal opsies wees om nie-toepaslike dele oor te slaan. Hierdie vraelys is ook anoniem. Al inligting wat by ons uitkom, is die antwoorde wat ingevul of gekies word by elke vraag.

Daar is drie maniere hoe hierdie vorm ingevul en teruggestuur kan word aan die kerkkantoor:

  1. Die google form se skakel kan gevolg word en elektronies ingedien word.
  2. Die vorm is aangeheg in pdf-formaat – dit kan uitgedruk, met die hand ingevul word en weer ingeskandeer en aangestuur word per e-pos na skriba@stelwel.co.za / afgegee word by die kerkkantoor.
  3. Die gedrukte vorm is gedurende die week by die kerkkantoor en Sondae op die tafels in die vierkant beskikbaar om te neem en tuis in te vul.

Ons vra dat jy dit voor 22 Augustus voltooi sodat ons goeie tyd het om alle insette te verwerk. Benader dit as ’n gesprek met die Here en vul dit in saam met die Here. En bid saam dat die Here sy gemeente sal lei.