Wanneer ’n mens Adrian Bertoni in Huis Horison se gange raakloop, sal hy dadelik ’n geselsie aanknoop, of hy jou ken of nie. Hy is nie skaam nie en sal enige vreemdeling soos ’n vriend uitvra na sy of haar doen en late. Een van ons personeellede, Vissie de Klerk, ken Adrian al vandat hy 20 jaar gelede ’n inwoner van die sentrum geword het, en hy sê dat Adrian se lewe om sy werk in die houtwerk-afdeling en mense draai. Dit is vir hom belangrik om aanvaar te word en deel te voel van die groep.

Adrian leef met outisme en ’n paar psigiatriese uitdagings. Orde, stiptelikheid en ’n vaste roetine gee struktuur aan sy dag en skep vir hom ’n veilige leefruimte. Hy kan presies sê wanneer dit sy beurt is om in die gimnasium te gaan oefen, maar het nie ’n langtermyntydsbegrip nie.

Omdat mense vir hom belangrik is, is dit vir hom baie traumaties wanneer iemand weggaan, aftree of sterf. Wilson Ngongoshe wat vir baie jare in die Houtwerkafdeling by die sentrum gewerk het, het Adrian altyd onder sy vlerk geneem. Wilson het aan die einde van 2017 afgetree en toe daar tydens sy afskeid vir hom gevra is wie hy baie gaan mis, het hy sonder aarseling Adrian se naam genoem.

Sy ma sê ook dat mense vir Adrian baie belangrik is. Sy huistaal is Engels, maar hy is 100% tweetalig en praat boonop Afrikaans asof dit sy huistaal is. Hy hou van musiek, maar is nie spesifiek oor sangers of tipe musiek nie. Hy wil nie veel uitbrei oor toekomsplanne en drome nie, maar sê dat hy baie graag weer sy pa, wat in die hemel is, wil sien. Hy onthou ook al die personeellede en inwoners wat vroeër deel van sy lewe by Huis Horison was en wonder hoe dit met hulle almal gaan en wat hulle deesdae doen.

Adrian en al die ander inwoners en dagwerkers bedank u graag vir al die hulp en ondersteuning aan die sentrum. Hulle kan nie onafhanklik funksioneer nie, maar in ’n geborge gemeenskap soos dié van Huis horison kom hulle tot hul reg. Die sentrum is ’n maatskappy sonder winsbejag en elke donasie maak ’n groot verskil!

Klik hier om die debietorder vorm af te laai.
Klik hier om die April 2018 Nuusbrief af te laai.

Die hele Horisongemeenskap wil jou bedank vir jou belangstelling en wens jou en jou geliefdes ’n geseënde Paastyd toe.

Vriendelike groete

Elza C Bresler
Uitvoerende Direkteur