Die bestuur van Huis Horison bedank almal wat betrokke is by hul projekte en bedank almal wat hulle getrou ondersteun en met elke donasie ‘n wesenlike verskil maak. Hulle deel daarom graag een van hul inwoners, Stephan Wessels, se storie om te illustreer hoe belangrik elkeen se betrokkenheid en bydraes is.
Stephan Wessels kan altyd dadelik sê wanneer hy ’n inwoner van Huis Horison geword het: op 11 April 2011. Hy is gelukkig hier en baie entoesiasties oor die werk wat hy in verskillende werkareas doen. Hy help by Opleiding om materiaal voor te berei vir kursusse en by Papierherwinning werk hy met die industriële versnipperaar. Hy help vlaggies maak vir verfraaiing by die kermis en daarby help hy ook in die gimnasium, waar hy sorg dat van die ander inwoners hul sessie op die oefenfiets getrou volg en voltooi. Almal wat met hom saamwerk, beaam dat hy ’n getroue, presiese, netjiese en vriendelike werker is. Hier by Huis Horison word Stephan se vermoë om vinnig te leer, opdragte reg uit te voer en ’n verskeidenheid take te doen, goed benut. Sy stimulerende werkprogram gee hom die geleentheid om as mens te ontwikkel en te groei.
Stephan moes egter ’n lang pad loop om tot hier te kom. Kort na sy geboorte op 8 September 1989 is sy ouers se vermoede dat hulle ’n kind met spesiale behoeftes het, bevestig toe Williamssindroom, ’n genetiese afwyking wat mediese probleme, ontwikkelingsagterstande en leeruitdagings kan veroorsaak, by hom gediagnoseer is. Hierdie siekte het sy eie uitdagings en die lewe was nog nooit vir hom of sy ouers maklik nie. Stephan moes ook vroeg in sy lewe leer om hartseer te verwerk toe sy boetie wat twee jaar jonger as hy was, op vierjarige ouderdom verdrink het. Hy is egter baie lief en dankbaar vir “kleinboet” Jaco wat saam met sy pa boer.
Sy pa Kobus sê Stephan geniet die kuiers om die braaivleisvuur op hul plaas in die Overberg en is altyd die een wat die vuur aansteek, die tafel dek, die volgende dag die braaiplek skoonmaak en die skottelgoed-wasser uitpak. Hy is ook baie lief vir musiek. Nog iemand wat vir Stephan baie spesiaal is, is sy meisie, Zani Marais. Hulle is al twee oudleerlinge van die Alta du Toit-skool en Zani is ook ’n inwoner by Huis Horison. Stephan en Zani geniet soos baie ander inwoners die sosiale funksies by die sentrum, altyd ’n geleentheid om mooi aan te trek en lekker te dans. Dit is goeie ontspanning van sy daaglikse, uiteenlopende take by die sentrum. Die geborge atmosfeer van sy ou skool en van Huis Horison het Stephan in staat gestel om veel in sy lewe te bereik. Hier kan hy tot sy reg kom en ’n vervulde, nuttige lewe geniet.
En dis inwoners soos Stephan wat u so gereeld ondersteun. Ons wil u opreg bedank vir u betrokkenheid by die sentrum. Stephan en die res van die Horisongemeenskap wil u bedank vir u belangstelling, hulp en ondersteuning en wens u en u geliefdes ’n geseënde Kerstyd toe.