Ons is baie opgewonde oor die planne vir ons kategese vir 2025 en verwelkom AL ONS KINDERS in ons eredienste! As jy en jou gesin nog moet registreer, volg hierdie skakel. Hiermee al die inligting oor die hoe en die wat van ons reëlings tydens eredienste, asook al die datums vir familie-kategese, “UIT”-Sondae en die tieners & belydenisgroep se aandsessies:

EREDIENSTE: Ons gemeente se visie vir ons jeug en families is dat families saam geestelik sal groei en aanbid en dat ons kinders sal leer oor geloof en die uitleef daarvan by hulle ouers asook die ouer generasies wat deel is van die gemeente. Daarom het ons een erediens waarby almal inskakel en verkies ons ‘n alternatiewe kategesemodel wat hierdie visie bevorder. Die model maak gebruik van ouderdomsgerigte knypborde wat kinders kan neem by die hoofingang om mee besig te wees tydens die erediens. Ons rig dan ook die volgende ruimtes in op ‘n Sondag tydens die erediens om dit vir ouers so maklik as moontlik te maak om kinders saam te bring na die erediens:

BABAKAMER: Kinders van alle ouderdomme is welkom in ons erediens! Hulle is geliefd deur die Here en deel van ons gemeente. Ouers wat dit egter verkies, is welkom om van ons ingerigte babakamer gebruik te maak waar hulle die erediens kan volg via klank en skerm.

“WIGGLE ROOM”: Op Sondagoggende tydens die diens is ons konsistorie ‘n “wiggle room”! Alhoewel kinders baie welkom is in die erediens (al is hulle woelig!), is ouers ook welkom om met hulle peuters en kleuters in die “wiggle room” te gaan sit, hardloop of speel tydens die erediens.

KATEGESE (GR. RR-6): Hierdie groep se primêre kategese vind plaas via die knypborde wat hulle elke Sondag kan neem by die hoofingang. Ná die diens ontmoet hulle in die saal vir ‘n samevatting van wat hulle op hul knypborde gedoen het en in die erediens gehoor het.

KATEGESE (GR. 7-10): Ons tieners woon die oggenderediens by saam met hulle ouers (hulle kan ook knypborde neem wat hulle help om die erediens te volg en te onthou). Hulle kom dan op Sondagaande 18:00-19:00 bymekaar in die leeskamer vir hulle kategese-sessie.

BELYDENISVOORBEREIDING: Die groep wat voorbereiding doen om volgende jaar belydenis van geloof af te lê, woon die erediens in die oggend by saam met hulle ouers, kom saam met die tieners bymekaar op ‘n Sondagaand, en het dan ook een keer per maand ‘n ekstra geleentheid saam met een van die leraars.

SPESIALE KATEGESE-GELEENTHEDE: Daar is twee spesiale tipe Sondae waarvoor ouers en kinders kan uitkyk op die gemeentekommunikasie: Familiekategese: Op hierdie Sondae kom die hele huishoudinge van kinders Gr. R-11 in die saal om tafels bymekaar en gesels saam met ’n fasiliteerder oor hulle geloof. Hier lag, speel en bid ons saam! “Uit”-Sondae: Hierdie Sondae is spesiaal vir ons Gr. R-6 kinders. Op hierdie Sondae kom hulle eers erediens toe saam met hul families, maar word tydens die erediens geseën en na die saal gestuur om saam ‘n pret aktiwiteit te doen rakende die kerkjaar of spesiale tye van die jaar.

KOSHUISBEDIENING: Ons gemeente neem ook verantwoordelikheid vir die kategese vir meisies in Huis Bloemhof. Gedurende die week kom vrywilligers in die koshuis byeen met die onderskeie grade se omgeegroepe. Ons doen ook in die week belydenisvoorbereiding met die Huis Bloemhof-meisies wat ver van die huis af is.