Donderdag, 21 November, was ‘n hoogtepunt vir die Klub-Sonder-Brieke van ons gemeente. Die jaarlikse afsluiting was by die Blue Creek-opstal van Piet Smal. Sowat 45 seniors het die inisiatief en veelsydige talente van ons leraars ervaar. Hulle het getoon dat hulle nie net geskoolde bedienaars van die Woord is nie, maar ook gasvrye en bekwame spyseniers. Die aanwesiges is getrakteer op voedsel en drank uit die boonste rakke!

Monty het almal verwelkom met sy skerpsinnige humor. Almal het dadelik tuis gevoel. Hy het die seniors uitgenooi om die heerlike vars brood, met kaas en konfyt, te beproef. Leon het gesorg vir die braai van smul-lekker kerrie-sosaties van Calvinia en die kerk se wors. Elzanne het getoon dat haar vaardige hand ‘n verskeidenheid aantreklike slaaie kan optower. Om alles te kroon, het sy gesorg vir ‘n grand finale van “roomys op ‘n horinkie”!

Nadat ‘n blyk van waardering aan die onderskeie leraars oorhandig is, kon almal met groot genoegdoening ou vriendskappe bevestig of nuwes sluit en met groot dankbaarheid huiswaarts keer. Berig en foto’s deur Johan de Villiers