Op Dinsdag 23 Oktober het ons saamgekom vir die luistergesprek oor ons familie en jeug bediening. Waar sien ons God aan die werk en wat sê God vir ons? Dit is die twee vrae wat ons ten opsigte van elke bediening in die gemeente wil vra en wil hoor hoe lidmate hieroor dink.

Die Familie en Jeug bediening moet poog om oor generasies heen mense te betrek en mense, oud en jonk, bymekaar uit te bring, want ons het mekaar nodig. Dit het ons pragtig gesien in die dans-en-drama-produksie wat oud en jonk geniet het. Verder hoor ons: Daar is geweldige druk op die bediening om “relevant” te bly.

Jeugbediening is baie uitdagend en die gevoel is dat kerke kompeteer om die jeug se aandag – die “beste” jeugbediening wen die meeste kliënte. Julle kan hoor wat verkeerd is in hierdie stelling – die koninkryk van God is nie ‘n kompetisie nie. Ons dink ons moet in Welgelegen probeer om getrou te bly aan ons visie en roeping – om as Familie en Jeugbediening jonk en oud te help om God as die lewende, teenswoordige, handelende God te ervaar.

As ons luister na wat gesinne vra, hoor ons: Soek ouers werklik leiding? Hoe kan ons ouers help om in uitdagende tye gesin te wees en kinders aan God en die gemeente en sy Woord te bind? Ons kinders en gesinne is dikwels so besig dat ons skoon vergeet daarvan dat ons aan God behoort. Om onsself te her-oriënteer as gesinne aan ons identiteit in Christus, is baie belangrik. Dit sal dalk ook van ons vra om ons lewens stadiger te begin leef sodat ons die mooiheid van God beter kan raaksien.

Ons hoor verder dat ons kinders geleenthede moet gee, soos die Lesotho-uitreik. Deur kinders geleenthede te gee, word hulle ingetrek, kry hulle die Here en die Here se kerk lief en word hulle deel van die bediening. Bediening moet egter nie net aan kinders gedoen word nie, maar ook deur die kinders.

Ons luister steeds verder. Help ons ook daarmee en stuur gedagtes wat julle by die Here hoor.