Dit is met groot opgewondenheid dat ons ons opwindende projek vir Barmhartigheidsmaand wil bekendstel! Die leë koffieflesse wat ingesamel is, gaan gevul word met ‘n spesiale verhouding van sopbestanddele. Ons heg die kookinstruksies aan die gevulde glasbottel en dan kan dit uitgedeel word aan diegene in ons gemeenskap wat dit so nodig het in hierdie koue winter. Indien daar van die sop oorbly, kan die glasbottel selfs gebruik word om die orige sop (in die yskas) te bêre.
Hierdie gevulde bottels sal versprei word deur die Voedingsaksie, ACVV, Stellemploy en behoeftige studente aan die US. Die bestanddele waarmee ons die bottels vul, is rys, droë sopmengsel of droë ertjies, droë lensies, ‘n pakkie soppoeier, ‘n blokkie “stock” en droë pasta. Enige bydraes om hierdie glasbottels te vul, is baie welkom.
Blikkieskos en ander nie-bederfbare voedsel soos boontjies, tamatie- en uiemengsel, “bully beef”, geblikte vis, konfyt, grondboontjiebotter, suiker, tee, koffie, olie en mieliemeel is steeds welkom en sal geskenk word aan instansies soos Voedingsaksie, Nagskuiling, ACVV, Safehouse en Jeuguitreik. Wanneer die Covid-regulasies dit toelaat, hopelik in Augustus, sal ons dan op ‘n veilige manier die bottels vul en afrond met die kookinstrukies. Word deel van hierdie groot gemeenteprojek en maak saam ‘n verskil in die gemeenskap van Stellenbosch!
Hou die Welweek dop vir inligting oor datums wanneer ons die bottels hier by die kerk gaan vul as jy wil kom saamwerk. Jy kan ook bottels tuis vul – die “resep” om die bottel mooi en in lagies te vul is as volg: halwe koppie rys heel onder, dan 1 pakkie soppoeier bo-op gestrooi en 1 blokkie “stock” gekrummel, dan ‘n halwe koppie droë sopmengsel/droë ertjies, volgende ‘n halwe koppie lensies en vul dan die res van die bottel op met droë pasta.