Wat ‘n heerlike, kreatiewe oggend was dit nie toe bykans 20 gemeentelede op 25 Julie byeen was om die sakke vir die neonatale eenheid te pak! Daar is gebrei, gehekel (met hekelpenne én verbaal!) en kaartjies is gemaak. Herta het vir ons die basiese beginsels van blommerangskikking gedemonstreer en sommiges is verras met ‘n klein  geskenkie  onder die sitplek! Die hoogtepunt was beslis toe Liza Joubert ons vermaak het met haar trekklavier. Dit het kompleet gevoel of ons iewers in Europa by ‘n straatkafee kuier! Ernstige pogings is aangewend om fyn motoriese bewegings by Leon aan te wakker, maar ongelukkig sonder sukses – breipenne en sy vingers is nie maats nie.

Na hierdie heerlike oggend het die gedagte posgevat om dit meer gereeld te doen – sommer net saamkuier, saamwerk, saamsit, saampraat, saamluister en saamwees.  Hou hierdie spasie dop, ons doen dit beslis weer.

Nogmaals baie dankie aan almal wat bygedra het tot die inhoud om die 30 babasakke vol te maak.