Die Dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode het, ná oorleg met die voorsitters van die 10 samestellende sinodes van die Algemene Sinode, besluit om op Sondag 13 Augustus ’n Dag van Verootmoediging te hou.

Waarom nou?
• Ons beleef ’n tyd van ekonomiese ontwrigting. Werkloosheid is buitengewoon hoog. Armoede neem toe. Dit raak ons intens.
• Ons beleef ’n tyd waarin misdaad toeneem. Moord, roof, korrupsie en wetteloosheid bedreig ons.
• Ons beleef ’n tyd waarin die dienste wat deur owerhede aan ons mense gelewer word baie ontoereikend is. Onvoldoende gesondheidsorg, vervoerdienste, opleiding, veiligheidsdienste en maatskaplike sorg is net enkele van die terreine waar mense in die steek gelaat word. Dit veroorsaak onnoembare lyding. Ons word daagliks daarmee gekonfronteer.
• Verreweg die meeste kinders ontvang nie goeie skoolopleiding nie. Hulle toekomsdrome is gevolglik beperk. Só word hulle deel van ’n vernietigende armoedesiklus. Dit maak ons hartseer en bekommerd.
• Die verlies aan en die verval van die infrastruktuur van ons land (paaie, water, elektrisiteit, hawens, en so meer) is uiters ontmoedigend.
• Ons beleef ook ’n tyd van morele verval, sekularisering, karakterloosheid, afsydigheid teenoor mekaar en stryd. Dit beroof ons dikwels van vreugde, vrede en ware geluk.

In hierdie tyd wil ons as kerk voor die Here buig. Ons wil na sy wil vra. Ons wil ons aandeel aan die verval rondom en in ons bely. Ons wil ons kleingeloof blootlê. Ons wil ons wend tot God as die Een van wie ons afhanklik is vir alles wat ons nodig het. Ons wil ons hoop op Hom vestig. Ons wil ons lewenskrag by die Bron van lewe vind. Ons wil met geloofsmoed die toekoms tegemoettree. Ons wil ons opnuut verbind om die evangelie te verkondig en lewende getuies van God se trou en liefde te wees. Ons wil, soos die Bybel ons leer, goeie en aktiewe landsburgers wees wat elke geleentheid aangryp om ander te dien en ’n opbouende verskil te maak. Ons wil deelneem aan die demokratiese prosesse en nie net op die kantlyn staan en kritiek lewer nie. Ons wil hande vat en saamwerk sodat die wêreld sal sien aan Wie ons behoort. Ons wil mense in die Naam van Christus met mekaar versoen met ’n bediening van versoening. Ons wil beweeg van moedeloosheid na hoopvolheid omdat Christus die Here van ons lewe is.

Daar sal ‘n aanlyn uitsending op 13 Augustus om 15:00 op die NG gemeente Stellastraat in Pretoria se YouTube-kanaal wees. Dit word aangebied deur die Dagbestuur van die Algemene Sinode. Jy word uitgenooi om in te skakel vir hierdie uitsending.

Met groot dank en waardering
Dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen