Sewe-en-dertig opgewonde seniors het op 12 September die natuurskone landgoed Babylonstoren agter Simonsberg besoek. Hulle het veel meer te sien gekry as net die bekende boslelies (Clivias). Almal is beïndruk deur die historiese opstalle, vriendelike personeel en prominente koppie waaraan die plaas sy naam ontleen het.
Die uitleg, omvang en verskeidenheid van vrugtebome en groentebeddings herinner aan Van Riebeeck se Kompanjiestuin. ‘n Natuurlike bergstroom verkwik die boomryke omgewing. Inheemse plante kry voorkeur-behandeling. Geen kunsmatige bemesting of insekdoders word toegelaat nie. Heuningbye, skilpaaie en voëls is welkom om die natuurlike balans te handhaaf. Eeue oue broodbome (Encephalartos-spesie) word in ‘n beskutte area versorg. Verskillende kruiesoorte en vetplante aard goed in die droër gedeeltes van die tuin. Medisinale plante word in ‘n spesiale afdeling gekweek met toepaslike beskrywings.
Die argeologiese klipwerktuie wat by Babylonstoren gevind is, bring die oudste inheemse inwoners se leefwyse aan die lig. Porselein-fragmente uit die Nederlandse tyd herinner aan bewoning deur die vroegste koloniste.
Opregte waardering is ten slotte betuig aan die erkende plantkenner Ernst van Jaarsveld wat nie net anderhalfuur as entoesiastiese begeleier opgetree het nie, maar ook almal aangespoor het om ons natuurlike flora en fauna van die omgewing te bevorder en beskerm. (Berig en foto’s deur Johan de Villiers)