Die verspreiding van die gevulde bottels het seepglad verloop. Betta Augustyn het die bottels vir ABBA en Stellemploy kom haal. Stellemploy se elektrisiteitstudente is elkeen beloon met ‘n sopbottel om terug te neem na hul huise – die hele gesin kon hul nuwe kwalifikasie vier rondom ‘n heerlike pot sop! Liesel Koen en Shaun van Voedingsaksie het hul bakkievrag (120 bottels) kom haal. Dieselfde dag kon hul al begin om bottels uit te deel aan behoeftiges by hul meer as 50 voedingspunte. Die maatskaplike werkers by die ACVV is ook baie dankbaar om 120 bottels uit te kan deel aan behoeftige gesinne in ons gemeenskap. Daarmee saam kon ons ook ‘n mikrogolfgoond en ‘n tweeplaat stofie aan die ACVV skenk wat die gaarmaak van voedsel vir 2 gesinne baie makliker kan maak. Denzil by Jeuguitreik bedank die gemeente dat ons ook aan die 20 kinders van Jeuguitreik gedink het met die sopbottels. By die Nagskuiling was maatskaplike werker Melrisha Hendrikse die ene glimlag toe sy die bokse met sopbottels sien. Dit gaan ‘n paar dae se kosvoorbereiding vir die 40 inwoners van die Nagskuiling baie makliker maak. Marie van der Walt het die vroue by Safehouse verras met genoeg sopbottels vir 5 etes, die mooiste dameskoene en ook ‘n hele boks vol vrouebederfies. Anita Jonker voel ook dat die studente aan die US die bottels goed kan gebruik en sommer saam-saam kan kosmaak en beslis nog genoeg sal oorhou vir nog ‘n ete. Eikiehart het ook hul deel ontvang en die 2 gesinne kan ten minste 3 keer van die voedsame sop geniet. Ons het beslis nie van ons werkers by die kerk vergeet nie. Valencia en Hlumele het breed geglimlag en Hlumele het rapporteer dat sy gesin gesmul het en nog genoeg gehad het vir die volgende aand!

Baie dankie aan almal wat bestanddele gebring het, inbetalings gemaak het waarmee die B-Aksie aankope kon doen, wat gehelp het om te pak, gehelp het met voorbereidings en opruiming en almal wat gehelp het met die verspreiding van die bottels. Met hierdie sopbottelprojek het ons nie net 2 544 honger mae gestil nie, maar die boodskap van Johannes 3:16 het ook, vasgebind aan die bottel, die ontvangers van die sopbottels bereik… “Want so lief het God die wêreld gehad…” .