Rina van den Heever, ons B-Aksie se verteenwoordiger, gee terugvoer oor ons Toiletware vir km’s-projek:

Vroeg in Februarie is aan die gemeente ‘n uitdaging gestel om een item toiletware in te samel vir elke kilometer wat Yvette Albertse in 2020 in staptogte gaan stap. Sommer gou reeds het Elzanne hierdie uitdaging van 460 verdubbel en is die mikpunt opgeskuif na 920. Sommige lidmate het geld geskenk en gevra dat die aankope gedoen word, ander het een rand vir elke kilometer geskenk, waarmee ook toiletware aangekoop is, nog ‘n ander het nekdoekies (buffs) gemaak en verkoop. Daarmee is ook R250 se toiletware aangekoop.

Met al hierdie wonderlike pogings het ons op 26 Maart op 890 items gestaan, totdat die Corona-virus ons insameling ingeperk het. Net toe ons voel dat ons nie ons mikpunt bereik het nie, kom ‘n lidmaat met baie tandeborsels en tandepasta. En daar oortref ons die teiken by verre! Min het ons geweet van die R750-inbetaling deur ‘n lidmaat vir die toiletware-projek!

Min of meer die helfte van alles is ingepak vir Calvinia. Die res van die toiletware is verdeel tussen ABBA, ACVV, Behoeftige Studente aan die US (byna 500 studente kon nie in hierdie tyd van inperking na hul ouerhuise gaan nie) Huis Horison, Jeuguitreik, Nagskuiling en Paarl Hospitaal Neonatale Eenheid.  Baie dankie aan die vyf studente in ons gemeente wat gehelp het met die verdeling en aflewering van die toiletware by die verskillende organisasies.

Dit was vir my (on)gelooflik om te hoor hoedat hulle voel dat ‘n sekere item by ‘n spesifieke organisasie pas, of dat hulle voel dat Jeuguitreik se kinders se tandeborsels almal dieselfde moet lyk, of dat alle stortseep beslis Calvinia toe moet gaan, want hulle het te min water om te bad! Baie dankie aan elke lidmaat wat bygedra het. Enige bydrae wat nog sou inkom, sal bygevoeg word by die bokse wat Calvinia toe gaan. Ek glo hierdie toiletware het ‘n groot verskil gemaak aan so baie wat dit nodig het.