Christus is die Here! Daarom wil on mekaar in verhoudinge opbou om so sy groot opdrag uit te leef!

GEROEP GEWILLIG GESTUUR

 

Gemeentebediening gaan oor alles wat in die gemeente gebeur. Dink byvoorbeeld aan die eredienste, die kleuterkerk, kategese, die musiekbediening, geloofsgroei, selfs die kuiertafels en die marktafel op ‘n Woensdag. Daar is ook die gasvryheids- en kaartjiebediening, Bybelstudiegroepe, kleingroepe, die pastorale versorging van lidmate en die groot werk wat die dienswerkers doen.

Hierdie is alles dinge waarsonder die gemeente nie kan funksioneer nie en elkeen is belangrik. Dink maar ook aan die tee- en koffieskinkers op ‘n Sondag, die blommemense wat die liturgiese ruimte verfraai en selfs die mense wat by die deure staan op ‘n Sondagoggend om ons met ‘n glimlag en ‘n Welweek te verwelkom.

Gemeentebediening se fokus is op die lidmate wat aan die gemeente behoort. Ons hoor dit is nie noodwendig om hulle te bedien nie, alhoewel dit ook belangrik is. Gemeentebediening gaan juis daaroor dat lidmate bedien word met die oog op dienswerk daar waar ons elke dag leef en beweeg en bestaan – om daar en in ons gesinne en werksplekke ‘n koninkryksverskil te maak.

Ons hoor dat ons mekaar nie net moet warm broei nie, maar juis moet toerus vir ons dienswerk. Ons hoor dat die grootste gesig van gemeentebediening dikwels die gemeente se eredienste is. Ons wonder: Is dit die een uur in die week waarom alles moet draai?

Ons hoor dat mense dink gereelde erediensbywoning is nie meer so belangrik nie, terwyl ander mense dit as die belangrikste deel van hulle kerkbelewenis sien. Die belangrikheid van die erediens word dan onderstreep deur die prediking – of dit “goed” of “sleg” is, en deur die gemeentesang – of dit “goed” of “sleg” is .

Ons hoor mense is baie keer baie emosioneel oor hoe die sang in die erediens hanteer word en watter instrumente gebruik word. Ons hoor ook van verskillende style en spiritualiteite wat aandag behoort te geniet en weet dit is baie moeilik om aan almal se behoeftes te voldoen in een erediens. Ons hoor ‘n dankbaarheid vir ‘n verskeidenheid predikers wat ons tydens eredienste bedien en daarom ‘n verskeidenheid style. Terwyl ons weet dat almal nie van almal se styl sal hou nie, help dit ons om die verskeidenheid in die kerk raak te sien en te waardeer.

Ons hoor dat daar dankbaarheid is vir predikers se dapperheid om moeilike sake aan te spreek en nie daarvan weg te skram nie, al kan dit ons soms ongemaklik laat. Die evangelie daag ons immers daagliks uit.

Ons hoor daar is ‘n behoefte dat mense meer betrokke moet wees by bedieninge – om byvoorbeeld tee te skink na die erediens, ‘n kategeseleier te wees, dienswerkers in wyke te wees, ens. Ons hoor dat deel wees van ‘n gemeente tog sekerlik ook betrokkenheid in die gemeente impliseer. Daarom wonder ons hoe om mense wat reeds baie besig is, betrokke te kry by gemeentelike bedrywighede, dit terwyl ons ook wil bevestig dat die uitleef van jou Christenskap daar waar jy elke dag leef en beweeg en bestaan, die primêre dienswerk van ‘n dissipel van Jesus is.