As gemeente wil ons steeds luisterend wees. Eerstens wil ons by God hoor en dan ook by mekaar oor waarheen ons glo die Here ons roep en stuur. Twee van die dinge waar Leer en Aktuele Sake in die laaste jaar betrokke was, is die Hervormingsdaggetuienis en die besluit oor Selfdegeslagverhoudings.
Na afloop van die luistergeleentheid, was dit duidelik dat ons die Hervormingsdaggetuienis opnuut moet gaan lees. Ons moet onsself afvra of ons onsself kan vereenselwig met hierdie getuienis van die gemeente. Ons glo dat hierdie getuienis deur God aan ons geskenk is. Ons hoor dat die getuienis nie net gaan oor selfdegeslagverhoudinge nie, maar oor alle onreg – ook onreg wat in die naam van die Here gepleeg word.
Ons hoor by ouers van homoseksuele persone van waardering vir die gemeente se standpunt. Dit bring nog nie die kinders terug nie, maar gee ten minste hoop. Ons hoor by mense van ‘n ongemak oor die gemeente se selfdegeslagverhouding-besluit, want wat sê die Bybel dan hieroor? As ons so aangaan, is dit nie maar ‘n geval van “anything goes” nie?
Ons daag mekaar uit om weer die getuienis te lees en ook om die Bybel verantwoordelik te lees. As ons kies om sekere dele van die Bybel letterlik te lees, veroordeel ons homoseksualiteit en gooi ons sulke mense letterlik met klippe dood. Die dun vernislagie van beskawing, wat keer dat ons tot die daad van steniging oorgaan, verhinder ons nie om mense met ons woorde en vooroordele te stenig nie.
Ons het ook gekies om die Bybel letterlik te lees toe ons apartheid goedgepraat het en ons het die NG Sendingkerk gestenig toe hulle die Belydenis van Belhar vir die wêreld gegee het. Ons hoor dat mense weg is uit die gemeente as gevolg van ons besluit oor selfdegeslagverhoudinge. Ons hoor van mense wat juis ‘n ander gemeente gaan soek het en ver ry om hier uit te kom, omdat die gemeente waar hulle voorheen was, homoseksuele mense veroordeel.
Na alles wil ons mekaar uitdaag om die Hervormingsdaggetuienis en Selfdegeslag-besluit elke dag te lees, of ten minste een keer per week. Lees dit saam met jou Bybel en laat die Bybel met jou daaroor praat – laat God toe om met jou daaroor te praat, en luister!