Christa Vorster en Valencia Josephs het Maandag spinasie uit ons eie groentetuin gebruik in die heerlike pasta-en-hoender-dis wat hulle vir die 40 mense by Nagskuiling gemaak het. “Van die tuin na die vurk” kan op die foto’s gesien word: Mbulelo Kadji besig om in die tuin te werk, Valencia en Christa in die kombuis aan die kos maak, die heerlike eindproduk en ook die inlaai van die kosbakke om na Nagskuiling te neem.

Dit sal wonderlik wees as ons meer van ons eie groente kan produseer om vir die kook van Nagskuiling se kos te gebruik asook om aan Voedingsaksie te skenk. Daarom dat ons graag ons groentetuin wil uitbrei. As jy dus kan help met nog houtkratte, goeie grond, plantjies en sade vir veral wortels, uie en tamaties, kontak asb die kerkkantoor.

Baie dankie ook aan almal wat gereeld groente kerkkantoor toe bring. Daar is heelwat aartappels in die spens wat tans gebruik kan word, maar die voorraad van wortels, uie en tamaties is baie min.