Een van Abba se maatskaplike werkers het in samewerking met die VCSV in Junie ‘n 3-dagkamp gehou met 30 graad 7-leerders van Vlottenburg Primêr. Dit wil voorkom asof kinders in hulle vroeë hoërskooljare makliker teikens is om te oortuig om met dwelms en drank te eksperimenteer. Daarom is hierdie groep by die kamp betrek om hulle weerbaarheid en onafhanklike denke te verbeter voordat hulle hoërskool toe gaan.

Welgelegen-gemeente is vroeg in Junie genader met die versoek om toiletware in te samel vir die kinders wat die kamp bygewoon het. Met dié skenkings kon ons Barmhartigheidsaksie vir elke leerder ‘n sakkie toiletware skenk. Ons het ook komberse aan hulle geleen wat na afloop van die kamp weer aan Nagskuiling en die ACVV gegee is om aan behoeftige mense uit te deel.

Baie dankie aan almal wat aan hierdie projek deelgeneem het en só gehelp het om hierdie kinders meer menswaardig en spesiaal te laat voel.